Verkope 2014

Alles loop nog reg vir Toyota

Toyota is steeds Suid-Afrikaners se gunsteling- motorvervaardiger, maar moeilike ekonomiese omstandighede beteken dat Volkswagen en Ford hul volgafstand in nuwevoertuigverkope verklein.

Volgens die nasionale vereniging van voertuigvervaardigers (Naamsa) is 644 216 nuwe voertuie in 2014 in Suid-Afrika verkoop. Dit was 0,7% minder as in 2013.

Die totale verkope van passasiersvoertuie het met 2,5% afgeneem, terwyl 3,4% meer ligte handelsvoertuie verkoop is. Ligte handelsvoertuie sluit bakkies en minibusse in.

Ten spyte van die effense afname in verkope het die motorbedryf se omset op die verkope van nuwe voertuie met 9% geklim.

Nico Vermeulen, direkteur van Naamsa, sê stygende rentekoerse en skerper stygings in die pryse van nuwe voertuie het verkope in 2014 onder druk geplaas.

“Tussen 2009 en 2013 het die pryse van nuwe voertuie baie stadiger geklim as die algemene inflasiekoers.

“Dit het het egter in 2013 begin verander.”

Volgens Naamsa het die pryse van nuwe voertuie in 2014 met gemiddeld 10% gestyg.

Vermeulen sê voertuigverkope kan egter vanjaar weer verstewig as die olieprys en laer voedselpryse help om inflasie in toom te hou.

“Dit sal moontlik beteken dat die Reserwebank die rentekoers vir eers onveranderd laat en dit is goeie nuus vir verbruikers en voertuigverkope.”

Vermeulen waarsku egter dat die wisselkoers steeds opwaartse druk op die pryse van nuwe voertuie kan uitoefen.

“Selfs motors wat in Suid-Afrika vervaardig word, gebruik ingevoerde onderdele. Tussen 30% en 40% van die waarde van voertuie wat plaaslik vervaardig word, word deur die ingevoerde onderdele bepaal.”

Vermeulen sê egter kopers neem nie net pryse in ag nie. “Om ’n motor te koop, is dikwels ’n emosionele besluit. Soms raak mense net gek oor ’n sekere motor.”

Toyota, Volkswagen en Ford was in 2014 steeds die motors waarop die meeste Suid-Afrikaners versot is.

Toyota verkoop al die afgelope 35 jaar meer nuwe voertuie in Suid-Afrika as enige ander motorvervaardiger en sy totale markaandeel het in 2014 19,8% beloop.

Suid-Afrikaners het ook verlede jaar meer nuwe Hilux-bakkies gekoop as enige ander nuwe voertuig en Toyota het 37 561 nuwe Hilux-bakkies hier verkoop.

Calvyn Hamman, senior adjunkhoof van bemarking en verkope van Toyota Suid-Afrika, sê Toyota se reputasie berus op gehalte, duursaamheid, betroubaarheid en die versigtige posisionering van produkte volgens mense se behoeftes.

“Die Hilux is net so gemaklik as werksbakkie op ’n plaas as in die oprit van ’n swierige huis. Baie Suid-Afrikaners het grootgeword met ’n Hilux, wat iewers in hul lewe ’n rol gespeel het.”

 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>